Waarheid

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ek moet brandstof ingooi en dit is 'n relatief stil aand. Die petroljoggie is vriendelik en lus om te gesels. Hy sleutel die bedrag in, sit die brandstofpyp in die inlaat, en kom staan weer by my venster. 

"Die ANC en die EFF gaan hierdie land nog verder laat agteruitgaan". 
"Hoekom sê jy so?", vra ek. 
"Hulle lieg vir die mense. Hulle vertel hulle as die DA wen gaan ons terug apartheid toe. Hulle gaan dan weer jou huis kom vat en jy gaan nie die grants kry nie. Jy gaan arm word en hulle gaan jou in die tronk gooi. Soos in die ou dae".
"Glo die mense hulle?"
"Hulle vertel vir die mense dat Siya is eintlik wit is. Hy is nie swart nie. Dit is die TV wat vir jou jok. Daar is nie een swart speler in die Springbokke nie en hulle het nie die World Cup gewen nie. Dit is alles liegstories."

Die brandstofpomp maak 'n geluid. Hy stap om en gooi die laaste druppels in voor hy terugkom na my venster toe met 'n kaartmasjien.

"Mense in die rural areas glo hierdie mense. Dan stem hulle steeds vir die ANC en die EFF."
"Dink jy Siya is wit?"
"Nee", sê hy.

Laasweek staan ek en gesels met mense en die een vriendelike vrou vertel my hulle is in 'n ander kerk. Doodonskuldig vra ek hoe dit met hulle gemeente gaan. "Dit gaan baie goed met ons gemeente. Ons kry nuwe mense want ons bly by die waarheid". Ek kon nie help om te wonder of sy met dié opmerking bedoel het dat die res van ons nie by die waarheid bly nie. 

Die waarheid kan 'n gevaarlike ding raak. In die geskiedenis van Westerse filosofie is daar baie oor waarheid gedink. Feite en wetenskap het waarheid tydens die modernisme bepaal. Later het die vooruitgaan in wetenskap, ironies genoeg, die verstaan oor waarheid weer bevraagteken en postmodernisme is gebore. 

Vir meeste is waarheid feite, maar vanuit 'n bepaalde onbewuste (of selfs bewuste) erkenning van subjektiwiteit en persoonlike perspektief. Dit is 'n konsep of 'n idee. Vir Westerlinge is dit logies en bewysbaar. Duidelik. Maar soos telkemale bewys, is dit wat deur mense voorgehou is as "die waarheid", toe nie heeltemal altyd die waarheid nie. Want wie kan jy nou regtig vertrou met "die waarheid"?

Die Bybel is nie Westers, modernisties of postmodernisties wanneer dit kom by waarheid nie. Die konsep het nie bestaan vir die antieke mens nie. Daar was nie eksperimente, lang debatte, TV's en Photoshop wat vir Siya kan swart maak nie. 

In Johannes is die waarheid nie 'n idee of konsep nie. Die waarheid is Iemand. Die waarheid is 'n persoon. En daardie persoon is Jesus (Joh 14:6). 
'n Gelowige hou vas aan die waarheid wanneer sy of hy aan Jesus vashou. Om aan Jesus vas te hou is om soos Jesus te leef. Die manier waarop jy leef is wat vertroue skep. Nie die skep van persepsie, die hoogmoed van jóú idee van 'n dogma of jóú eie selfsugtige verkondiging van wat jy dink is waar nie. 

Nederig, stil-stil stap saam met Jesus. Hy is die waarheid. En eendag sal ons eers ten volle sien (1 Kor 13:12).