Behoort

geskryf deur Dr Karin Steyn
Daar is darem niks so lekker soos om na ‘n besige dag net te kan huistoe gaan nie. By jou plek en jou mense wees. Daar waar jy jou pantoffels aantrek.
Die woord vir hierdie gevoel is geborgenheid. Om sorg te ervaar, om veilig en beskermd te voel, om te behoort.

Die mees algemene woord vir geborgenheid in die Ou Testament is Kha-sa en beteken om vertroue in iets te hê of om veilig by iemand te voel. Dit kom 37 keer in die Ou Testament voor en word gebruik om ons verhouding met God te beskryf.
 
Mens en dier het ‘n behoefte aan geborgenheid, want ons is immers gemaak om te behoort. Kyk maar na troppe olifante, wildehonde of sebras. Hulle leef saam. Of hou dalk net jou kinders dop.

In Galasiërs lees ons van ‘n groep mense wat sukkel om saam te leef. Hulle begin baklei oor wie is in en wie is uit. Hulle hou vas aan ‘n klomp verouderde reëls en voorskrifte om te bepaal wie is “ons” en wie is “hulle”. Dis moeilik vir hulle want hulle kom uit die Joodse geloof. Daardie reëls en voorskrifte het oor generasies heen hulle help bepaal wie hulle is. God se mense.

Maar nou is hier mense wat anders lyk en anders doen wat ook God s’n is. Die Galasiërs groep mense stap ‘n mooi pad waarin hulle leer: Dit is deur ander en deur mekaar, eerder as deur oppervlakkige eendersheid, dat ons gemeenskap vind. Hulle leer van daardie opregte behoort wat ons help om dieper en wyer te leef.

Dieper bewus van God se heiligheid wat alles en almal op ‘n manier deurgrond.
So hoe voel jy oor behoort?

Dalk begin jy by ‘n nuwe werk waar jy niemand ken nie. Of iemand wat julle familie geanker het is nie meer hier nie. Of jy probeer dalk steeds by ‘n vriendekring inpas waar dit vir jou voel of jy terug in die laerskool is.

My wens vir jou die week: mag daar ‘n plek wees waar jy stop met geen pretensie. Net jy en mag jy inpas. Dit kan ‘n fisiese plek wees of ook ‘n innerlike belewenis van liefde en sorg in ‘n verhouding of vriendskap.

Hy is ons ewige skuilplek en vesting.
Amen