Bemarking vir Pinkster

geskryf deur Ds Marco Koch
Daar is twee goed waarvoor mnr. Milton Hershey baie lief was, kinders en sjokolade. Hy het altyd geglo dat díe twee saam hoort. In 1903 begin hy ‘n sjokoladefabriek in Pennsylvania, Amerika. Om goeie sjokolade te maak was nie moeilik nie. Die moeilike deel was om dit te verkoop. Kenners het vir hom gesê die enigste manier hoe hy sy sjokolade gaan verkoop is om vir mense geld te betaal om vir ander daarvan te vertel. Ons noem dit advertensies, dit is wat jy in tydskrifte, plakkate en op die TV sal sien.

Natuurlik help dit om advertensies te maak, dink mnr. Hershey by homself, maar dit maak jou sjokolade duurder omdat die advertensies duur is. Mnr. Hershey sê toe “As my sjokolade lekker genoeg is, sal mense wat dit eet sélf vir ander mense daarvan vertel. Die nuwe mense sal dan ook vir selfs nóg meer mense daarvan vertel.” Dit is toe presies wat gebeur het.

Vir jare en jare was die Hershey’s sjokolade die enigste produk wat oor die hele Amerika verkoop is waarvan daar nie ‘n enkele advertensie op die radio of tydskrifte was nie. Mnr. Hershey was ‘n baie slim man. Hy was ook ‘n baie goeie man. Hy het van sy geld gebruik om ‘n kinderhuis te bou wat duisende kinders gehelp het.

Bederf jouself vandag en koop vir jou ‘n Hershey sjokolade. Wanneer iemand jou vra, ‘was dit lekker?’ het jy sekerlik nie geld van my af nodig om die waarheid te praat nie. Jy is mos ‘n gelukkige kliënt!

So is dit ook met ons geloof. Die Here het nie ‘n bemarkingstrategie nodig vir die evangelie om te versprei nie. As jy eers een keer die krag van die Gees in jou hart beleef het, sal jy altyd daarvan getuig; nie net met woorde nie, maar met jou hele lewe. Soos die bekende woorde van St. Francis van Assisi: “Verkondig te alle tye die evangelie, en wanneer nodig, gebruik woorde."

Handelinge 1:8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Vrede,
Ds. Marco Koch