Konneksie

geskryf deur Sonnika Nel
Ek is seker dat jy al met tye gewens het dat jy vir ‘n week of ‘n maand iewers in die berge in ‘n houthuisie kan gaan woon waar jy met niemand hoef te praat of niemand hoef te sien nie. Jy hoef vir niemand behalwe vir jouself kos te maak nie, jy hoef niemand se huiswerk na te gaan nie, jy hoef niemand vier keer ‘n dag rond te ry nie. Niemand sal iets van jou verwag of ongeduldig op hul horlosies tik om jou aan te jaag nie. Die verloop van jou dag word nie deur ander se dagboeke bepaal nie en jy kan heeltemal onaangeraak deur die wêreld se gebeure jou eie gang gaan.

Dit klink idilies en ek sal ‘n orgaan verkoop vir so geleentheid.

Maar……. ons is nou maar net nie gemaak om sonder konneksie en ander mense te leef nie.  Ons kan op ons eie bestaan, maar nie sonder ander mense LEEF nie. Die introverte onder julle verskil moontlik van my, maar selfs julle het konneksie nodig (al is dit in kleiner dosisse as die res van ons!)

Terwyl die karwag in die week my help om my inkopies in my motor te laai, praat hy onophoudelik en vra uit asof ons ou vriende is. Dis sy behoefte aan konneksie.

In die kerkkantoor gaan daar nie ‘n dag verby wat iemand nie ‘n geselsie in my kantoor kom maak of ek by iemand inloer nie. Dis ons behoefte aan konneksie.

Iemand vertel my in die week van haar bejaarde ma wat haar elke dag twee maal bel en sy kan agterkom haar ma dink verskonings uit vir ‘n “goeie rede” om te moet bel. Dis die tannie se behoefte aan konneksie.

Terwyl ek in die ry by die apteek staan, begin die man agter my spontaan gesels  oor die mense wat nou so siek is en vertel van sy eie stryd teen die griepvirus. Dis ‘n vreemdeling se behoefte aan konneksie.

Mense met wie jy in aanraking kom (familie, vriende, kollega’s, kliënte, vreemdelinge, pasiënte) kan jou soms  uitput.  Dís waar die behoefte vandaan kom om in die berge te gaan verdwyn.  Maar dieselfde mense is ook die mense wat vir jou ‘n doel in die lewe gee.  Hulle ondersteun jou wanneer jou kragte min is.  Hulle omhels jou wanneer jy ‘n drukkie nodig het. Hulle motiveer en inspireer jou.  En hulle bid vir jou.

Robert Putnam, ‘n sosioloog, skryf in sy boek “Bowling Alone” dat mense al hoe meer emosionele uitdagings beleef omdat mense se ondersteuningsnetwerke gekrimp het. Sommige mense leef vir dae lank op hul eie sonder kontak met enige iemand anders.

Onafhanklikheid, eie-reg en selfversorging word in uiterste mates beoefen. Ons almal ken iemand (of ís dalk self so iemand!) wat glo hulle het niemand nodig nie en is beter af op hul eie. Al is hierdie mense 100% selfversorgend en onafhanklik van ander in terme van materiële en fisiese aspekte, kort almal emosionele sorg van ‘n ander persoon.  Ons maak ook ‘n groter verskil in die wêreld wanneer ons hande vat met ander mense en kollektiewe pogings aanwend. Daar is ook iets heiligs daaraan om God op ‘n Sondag saam met mede-gelowiges by die kerk te kan aanbid.

So, wanneer jy weer voel dat die mense om jou, jou emmertjie leegtap, probeer om anders na hulle te kyk.  Sien raak dat hulle vir jou betekenis gee , dat hulle jou identiteit help vorm en dat jy hulle NODIG het!

Gaan lees gerus ‘n paar van die “mekaar”-tekste in die Bybel:
1 Tess. 5:13: “ Betoon liefde aan mekaar…….leef in vrede met mekaar
1 Pet. 4:9: “Wees gasvry teenoor mekaar
Gal. 6:2: “Dra mekaar se laste”
1 Pet. 4:8: “Bo alles moet julle mekaar liefhê”
Daar is nog baie van hierdie “mekaar”-tekste in die Bybel, want God het ons geskape om na aan MEKAAR te leef.

Let vandag op wie die mense is met wie jy skouers skuur. Laat hulle toe om jou te bemoedig, te vermaak en te verryk! Omring jouself doelbewus met diegene wat opdaag as jy hulle nodig het, mense wat jou goed laat voel oor wie jy is en wie in jou behoefte aan konneksie kan voorsien.

Groete,
Sonnika