Sien raak wat nié op jou lysie is nie

geskryf deur Sonnika Nel
Ek en my gesin het gedurende Junie die voorreg gehad om vir tien dae deur die Karoo te toer.  Ons droom al lank daaroor en het ‘n lang lysie gehad van plekke wat ons graag wou sien en dinge wat ons graag wou ervaar.  

So pak ek en my man die motor: vol gelaai met ‘n tiener, ‘n hond, al die warm klere wat ons besit, die “móét-sien-en-doen”-lysie en groot verwagtinge!

Ons het egter nog nie by ons erf uitgery nie, toe het ons reeds motorprobleme wat ons twee ure later as beplan laat wegtrek.  Dit was die begin van ‘n hele paar uitdagings wat ons “moet-sien-en-doen”-lysie effens verkort het. Ons het ‘n paar dae later weer motorprobleme ervaar, ons moes ‘n paar beplande bestemmings uit ons reisplan sny, dit was vir tien volle dae so bewolk deur die nag dat ons nie een ster kon sien nie en daar was nêrens eers ‘n korreltjie sneeu nie!  

Dit het gemaak dat ek soms lekker dikmond was oor iets waarna ek uitgesien het en dit toe nie kon realiseer nie. Maar ons het soveel meer ervaar en gesien as wat ons beskeie lysie ons ooit sou kon bied!

In die Karoo het dit gevoel of ek in God se sitkamer kon sit en kuier.  Die massiewe berge het Sy almag en grootheid ten toon gestel en die vlaktes my diepe afhanklikheid van Hom.
Ek het geleer dat Karoo-tjoppies regtig lekkerder smaak, dat elke windpomp en aalwyn die perfekte foto maak en dat ‘n kaggel in ‘n kombuis in ‘n Karoo-huisie tot in jou hart kan warm maak.

Ons het in elke klein dorpie die ryk geskiedenis van ons pragtige land ervaar en weer tot ‘n diepe besef gekom dat die verskillende kulture in ons land saamgeweef is en dat wanneer ons enige kultuur probeer ontken of wegpraat, ons die kunswerk net gedeeltelik kan sien.

Ons reis het ons herinner dat die grou winter net so mooi kan wees soos die groen somer, dat stilte onontbeerlik is vir die herstel van ons menswees en dat padstalle die mooiste stories oor ons land se mense vertel.

Ek weet nou dat ek vir seker in die regte land gebore is (dalk net nie in die regte provinsie nie!) en ‘n geduldige man wat stop sodat ek elke windpomp, skapie, sonsak, aalwyn of mooi klip kan afneem, is “priceless”!

Hierdie reis het my laat besef dat daar te min tyd is om alles in die wêreld te ervaar wat ek graag wil ervaar en daarom moet ek die belewenisse wat ek wél het, ten volle en in diepte rááksien.

Soms spandeer ons te veel tyd en energie om uit te werk en terug te kyk na alles waarop ons uitgemis het.  Geleenthede, bevorderings, nog ‘n kind, toekennings of mooier meubels. Die feit is dat ons soms moet terugstaan en sien wat ons wél kry. Dis goed om drome en doelwitte na te streef, maar moenie só gefokus wees daarop dat jy die dinge wat nie op jou lysie is nie, miskyk nie.

Ek vermoed dat ons soms so gefikseer is op die prentjie wat ons probeer skep vir onsself, dat ons God se kunswerke rondom ons miskyk. Sy kuns is in die verhoudinge met die mense wat lief is vir ons. Dis in Sy skepping, selfs in Gauteng! Dis in ons gemeente waar gemeentelede vir mekaar omgee en mekaar ondersteun. Dis in die genade wat ons elke dag uit Sy hand ontvang.

Sterkte vir die koue en probeer jou bes om ook die mooi daarin raak te sien!