Dankbaarheid is 'n deug

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Dit is té naby aan middernag, dink ek by myself. Die motors staan voor Affies se sporthekke, verby die sirkel voor Ooskerk, tot om die draai voor Loftus verby. Dit was "Maritzburg-naweek". Oor die 800 seuns het gaan deelneem aan sport en kultuur. Baie het oorgeslaap in die opponente se huise en moes sosiale vaardighede bemeester met dié interaksie, terwyl hulle aan hul lyf vreemdelinge se gasvryheid kon beleef.

Een vir een kom die busse aan, stop en laai hordes seuns af wat haas om by die huis te kom. Die toneel is aanskoulik. Dit lyk of meer mense deel is van dié gebeure as tydens 'n Bulle-wedstryd op Loftus.

In dieselfde naweek het Waterkloof en Helpmekaar 'n soortgelyke ontmoeting gehad. So ook Garsfontein en Nelspruit en ook moontlik meeste ander skole in die land.

Die afgelope vakansie was Laerskool Tygerpoort saam met ander skole van regoor die land in Bloemfontein vir hokkie. Ander hier in Pretoria vir toernooie.

Afrikaans Hoër Meisies se koor, onder leiding van die wêreldbekende Renette Bouwer, het in Europa deelgeneem aan 'n koorkompetisie. Behalwe vir die finale punt van 97% wat vir hulle ‘n eerste plek in twee kategorieë besorg het, het hulle die gesogte Grand-Prix toekenning ontvang. 'n Toekenning wat beskryf kan word as die "golden buzzer" in die internasionale koorarena.

Dikwels in gesprekke met oud-Suid-Afrikaners wat nou oorsee woon, hoor ek die woorde: "Julle besef nie hoe bevoorreg julle is met die skole in Suid-Afrika nie". Daar is baie min plekke in die wêreld waar kinders blootgestel word aan dít wat ons kinders mag beleef. Van akademie tot sport, moedertaal-onderrig en kultuur. Die vaardighede wat hul aanleer met toere, sosiale interaksies en om die lewe se teleurstellings en vreugdes binne die veilige omgewing van Christelike skole te leer hanteer, is van onskatbare waarde.

Medieval philosopher and theologian Thomas Aquinas asks in his Summa Theologiae, "Whether thankfulness is a virtue, distinct from the other virtues?"
For him, the answer is yes, because thankfulness is "a special part of justice." Giving thanks to our benefactors, those who have given us a particular and personal favor, is an issue of obligation, or justice. We owe gratitude to them, and this is different from the related virtues of religion (owed to God), piety (owed to parents), and observance (owed to those who excel in dignity). We are left with thankfulness as a virtue distinct from these related excellences of character. Thankfulness, or gratitude, is a matter of justice.

- Michael W. Austin

Ons skuld onderwysers, skoolfhoofde en skole se beheerliggame wat hierdie ongelooflike geleenthede fasiliteer ons dankbaarheid.
Ons kla maklik. Ons is ontsteld oor spankeuses of as daar 'n fout begaan word. Ons skree selfs op onderwysers, stuur eposse met vloekwoorde in en dring aan op die voorkeur hantering van "my kind". Ons skinder om braaivleisvure oor onderwysers se privaatlewens en speel skole teen mekaar af.

Maar ons is kortsigtig en bewys dat ons sonder perspektief is deur kleinlik op te tree sonder om die groter prentjie te sien.

Verbeel jou 'n wêreld waar, soos in baie lande oorsee, geen sport, kultuur of sosiale geleenthede deur skole aangebied word nie. Waar onderrig bloot die oordrag van kennis is sonder liefdevolle onderwysers, wat ook soms foute maak, maar altyd die volgende dag weer opdaag. Verbeel jou daar is geen toere, geen toernooie en nêrens 'n veld om langs te staan en die skeidsregter 'n bietjie gas te gee nie. Verbeel jou 'n wêreld waar kinders net kliniese akademiese opleiding ontvang, dissipline en Christelike waardes ontbreek en hulle elke middag voor skerms sit en oor naweke in publieke plekke moet vriende soek.

Dankbaarheid is een van die Bybel se grootste tekens van 'n gesonde geestelike lewe:

Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tess 5:16-18)

Doen almal 'n guns. Stuur vir 'n onderwyser 'n epos om dankie te sê. In stede daarvan om te kla by die hoof, stuur vir hom of haar 'n klomp biltong of gee die hoof 'n handdruk langs die veld, sonder om te verwag dat jou kind daardeur bevoordeel moet word.  Maak 'n plan met jou span se afrigter dat sy of hy die geleentheid kry om ‘n keer na hul eie kind se rugby kan gaan kyk. Gee die beheerliggam-lid 'n druk of braai sy of haar vleis by die volgende geleentheid - hulle gee ure van hul tyd vir die skool.

Dankbaarheid is 'n deug wat resoneer met geregtigheid. Dit is nie iets wat óns kan doen nie - dit is iets wat jý moet doen. Veral teenoor hulle wat dit werklik verdien.

Die Bybel sê in elk geval dat 'n Christen se hart altyd met dankbaarheid gevul behoort te wees. Die Here leef daarin.