Ons is almal springbokke
geskryf deur Sonnika Nel
Ons woon langs die Moreleta Natuurreservaat wat die tuiste is van ‘n hele paar bokspesies. Ongelukkig gebeur dit soms dat een van die kleiner bokkies op ‘n manier uit die reservaat ontsnap en dan tussen die huise beland. Bokkies wat rustig op ons grasperke wei is nie in beginsel ‘n probleem nie, maar wel die feit dat ons buurt ook grens aan twee baie besige hoofpaaie wat ongelukkig in die verlede al ‘n bokkie of twee geeïs het. So wanneer ‘n bokkie wel uitkom, is daar altyd mense in die buurt wat die bokkie probeer terugkry in die reservaat.
Saterdagaand, so net na 21:00, laat weet iemand in die buurt toe juis dat hulle ‘n klein springbokkie in een van die strate opmerk. Ons is op daardie stadium oppad huistoe en sluit toe aan by die “bok-soek-en-reddingspan”.
Ek weet nie of jy al ooit ‘n springbok probeer vang het nie? En ek praat nie van Makazola Mapimpi of Curtley Arendse nie. Dit moes nogals ‘n prentjie wees om te aanskou! Hierdie jong springbokkie laat twee mans, twee vrouens, twee tieners en vier sekuriteitswagte toe vir amper ‘n uur in die strate op en af hardloop! Ten spyte van ons pogings om hom in die rigting van die reservaat se hek aan te jaag, systap hy ons elke keer en hardloop en spring telkens in die verkeerde rigting in. Na wat gevoel het soos ‘n ewigheid, hardloop hy in ‘n aalwynbos in waar een van die sekuriteitswagte naby genoeg kan kom om hom te gryp, op te tel en terug te dra na die reservaat waar hy met sy bok-familie herenig is.
Tydens hierdie hele petalje, dink ek heeltyd: as hy maar net besef dat ons hom eintlik wil help! Selfs nadat hy gevang is en soos ‘n trofee deur die sekuriteitswag na veiligheid gedra is (onder luide toejuiging van die res van die verkluimde en verligte reddingspan!), spartel en skree die bokkie asof hy vermoor word.
As hy maar net geweet het, hoe graag ons hom wou help. As hy maar net geweet het hoe belangrik sy veiligheid vir ons is. As hy maar net geweet het wat ons opgeoffer het om hom veilig te kry.
Ons is ook maar soos die springbokkie. Ons vergeet dat God goed is en ons wil help. Ons vergeet dat ons vir Hom belangrik is. Ons vergeet Wie Hy vir ons opgeoffer het.
Ons maak benoude spronge en vat telkens die verkeerde afdraaipaaie. Ons vertrou nie Sy goedheid nie en ons leef nie soos verlosdes nie. Ons leer ook nie uit ons foute nie en maak telkens dieselfde swak besluite.
Gelukkig word God nie moeg nie. Hy gee nie op nie.
Dankie tog daarvoor!
Na die suksesvolle reddingspoging Saterdagaand, dink ek: hierdie springbokkie het darem vanaand sy les geleer en sal nie weer van sy mamma afdwaal nie. Maar Sondagoggend vroeg is daar weer ‘n boodskap op die gemeenskapsgroep: Dieselfde bokkie dwaal WEER in die strate rond!
Is ons nie eintlik maar almal presies soos die springbokkie nie?