Aan watter kant van die tafel staan ons nou eintlik?
geskryf deur Ds. Marco Koch
Die Lig & Ritme fees is verby en ek begin reeds krities terugkyk wat ons kan verbeter vir volgende jaar. My kollegas sê dit is omdat ek ‘n “ses” is dat ek só dink. Blykbaar ‘n persoonlikheideienskap van die Enneagram wat ek sélf nog moet ontdek. Nietemin dink ek terug aan die klein stories wat ek beleef het. Die slim teoloë sê die klein stories (narratiewe) is gewoonlik ‘n refleksie van die groot stories.
Die span waarvan ek deel was, was verantwoordelik vir die gelukkige trekking. Ons het mense links en regs geteister om kaartjies te koop. Jammer as jy een van die ongelukkiges was wat in ‘n hoek gedruk is. Maar dankie vir jou bydrae tot ‘n uiters suksesvolle veldtog. Teen 19:00, 30 minute voor die hoof vertoning moet begin, is ons kaartjies op. Uitverkoop. Ongelooflik!
Ek hardloop om nog kaartjies te druk, maar die dringendheid by die koskaartjies is groter. Almal wil gou iets koop om te eet voor Jacques en Karlien begin sing. Met my twee Yoco masjiene hol ek af ondertoe. Halfpad daarheen loop ek in Jacques vas. Dis nou die ander Jacques, Van der Westhuizen, nie Na die Reën nie. Hierdie Jacques kan ook musiek maak, maar min het ek geweet hy kan ook baie goed wiskunde doen. Wat in ‘n japtrap baie handig te staan gekom het.
Ons gryp ‘n nabye tafel wat nie gebruik word nie. Ons kry ‘n enkele pryslys wat werk met inkremente (kon nie ‘n lekker Afrikaanse woord hier kry nie) van R15’e. Ons moet kophou. Die pryslys word om en weer geswaai om die wiskunde van die koper en verkoper te toets. Om 19:25 raak die ry kort. Daar is slegs twee mans oor in die ry wat elk ‘n skaappita bestel. Die pryslys is na ons kant gedraai. Hier kom ‘n jong dogter van so nege jaar wat tussen my en Jacques kom staan. Gelukkig sien ons gou haar verwarring raak toe sy vir die twee “kopers” vir kaartjies vir ‘n bakkie kerrie & rys vra. Hulle speel saam en vra vir haar; “is daar nog iets wat jou hart begeer, of sal dit al wees?” Sy skud haar kop en haal ‘n R100 noot uit haar sak uit. Die “kopers” staar na die “regte kopers” en ons al vier besef meteens die dilemma. Ons neem geen kontant nie, en al wou ons, ons het geen kleingeld nie.
Toe gebeur die mooiste ding. Een van die twee mans, wat sover ek weet nie gemeentelede is nie, bied toe aan om vir die jong dame ‘n kerrie & rys met hulle kaart te betaal. En toe sy nie weet waar dit is nie, vergesel hulle haar ook sommer na die stalletjie waar dit verkoop word.
Die klein stories is gewoonlik ‘n refleksie van die groot stories.
Daar was ek onder die indruk dat die kerkpersoneel die gashere en gasvrouens is, maar hier bedien die mense van die gemeenskap mekaar.
Aan watter kant van die tafel staan ons nou eintlik?
Ons was maar net toevallig op die pad om dit moontlik te maak. Soms werk die Here deur ons op maniere wat ons nie self kon bewerk nie. Ek sê ‘n skietgebedjie op: “Dankie Here dat u my gebruik ten spyte van my en nie as gevolg van my nie. Amen”
“Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.” – Spreuke 3:27
Vrede.