Yster slyp yster, vriende vorm mekaar

geskryf deur Ds. Marco Koch
Kern konsepte: Gesonde gesprekvoering | egte vriendskap | reisgenote wat ondersteun | eerlikheid op die regte manier

Gesonde gesprekvoering
‘n Jong dogtertjie vra eendag vir haar ma: “Is gesprek ‘n tipe kos wat mens kan eet mamma? Hoekom moet mens dit vir iemand voer?” (1)

Ons kan nou vir haar lag omdat sy die term gesprekvoering verkeerd verstaan. Maar dit laat my dadelik wonder; verstaan ek gesprekvoering reg? Is daar nie dalk meer sin in sinvolle gesprekvoering nie? Ly ons nie dalk aan ‘n geestelike en emosionele voedseltekort as ons nie gereeld genoeg gesonde gesprekke voer nie?

Egte vriendskap
Ek het op ‘n tyd ‘n informele gesprek met ‘n dominee gehad. Ons begin sommer oor ditjies en datjies gesels. Op ‘n punt deel ek van die uitdagings wat ek op daardie stadium in my lewe en bediening beleef. Tot my verbasing raak hy effens ontsteld en vra knorrig: “Hoekom het jy nie al lankal met my kom gesels nie?” Ek voel effens verleë en antwoord: “Ek wil jou nie die berader van my probleme maak nie.” Toe sê hy iets wat my skok, en dít sal ek nooit vergeet nie: “Marco, jy verwar berading met vriendskap.”

Doen jy genoeg moeite met jou vriendskappe? Ek praat nou nie hier van bloot kuiers waar ons saam kyk hoe die Bokke die Argentyne laat les opsê nie. Ek praat hier van daardie vriendskappe waar jy ruimte skep vir eerlike en gesonde gesprekvoering. Daardie vriendskappe waar die Bybel sê “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” (2).

Tot watter mate is jou vriende reisgenote en nie net kuierbuddy’s nie?

Reisgenote wat ondersteun
Simon Sinek is ‘n kenner op die gebied van leierskap en dit verbaas my toe ek onlangs ‘n video (3) sien hoe hy oor die belang van vriendskap praat. Wat my nóg meer verbaas is dat hy hierdie gesprek met ons eie Trevor Noah gevoer het.

Simon sê “vertroue word gebou, nie deur jou hulp aan te bied nie, maar om vir hulp te vra.” Trevor beskryf hoe hy sy vriendskappe inrig, amper soos ons sou doen met rituele in die kerk. Saam met sy lewe se reisgenote skep hulle doelgerig ‘n ruimte waar hulle intensioneel mekaar in die oë kyk en die eerlike gesprekke voer wat mens andersins te skaam sou wees om te doen.

Eerlikheid op die regte manier
Dit is nie noodwendig maklik om jou lewe só met iemand te deel nie. Dit is ook nie noodwendig maklik om eerlik te antwoord met die harde waarheid nie. Oscar Wilde het juis gesê: "True friends stab you in the front."

Gesonde gesprekke beteken dat 'n egte vriend eerlik met jou sal wees, selfs wanneer dit moeilike waarhede behels. In plaas daarvan om agter jou rug te praat of jou te mislei, sal 'n ware vriend jou reguit konfronteer en opbouende kritiek of terugvoer gee. Die "steek" verwys na die seer wat kan kom van die waarheid hoor, maar aangesien dit uit 'n plek van omgee en eerlikheid kom, is dit uiteindelik 'n teken van ware vriendskap. Wilde suggereer dat ware vriende jou nie verraai of mislei nie; hulle is reguit, selfs wanneer dit ongemaklik is. Hierdie soort eerlikheid, alhoewel dit dalk seermaak in die oomblik, is baie meer waardevol as valse lof of die vermyding van moeilike onderwerpe.

Vrae om oor na te dink
•Hoeveel moeite doen jy met jou vriendskappe?
•Het jy iemand waarmee jy elke dag of elke tweede dag mee praat, sommer oor die alledaagse goed? Het jy iemand met wie jy jou belangstellings en lewe kan deel.
•Skep julle intensionele ruimtes waarby julle veilig kan voel om in mekaar se lewens in te bou?

Opdrag
•Tel nou jou foon op en maak ‘n koffieafspraak met die eerste persoon wat in jou gedagtes opkom as jy die woord “vriendskap” lees.

Vrede,
Ds. Marco Koch

(1)Stephan Joubert, Voer gesprek reg, Beeld 26 Sep 2024, bl. 13.
(2)Spreuke 27:17
(3)Simon Sinek & Trevor Noah on Friendship, Loneliness, Vulnerability, and More | Full Conversation: https://youtu.be/CNBxIhxHHxM