Vryheid
geskryf deur Ds. Sonika Nel
Waarvan sou jy wou vry wees?
Ons leef in ‘n land en binne ‘n sekere konteks waar redelike vryheid ons beskore is. Ons word nie vervolg op grond van ons geloof nie, meeste van ons kinders het nog die vryheid om in hul moedertaal onderrig te ontvang en ons Grondwet beskik selfs oor ‘n hele hoofstuk waar mense se regte en vryhede beskerm word.
Ongelukkig voel ons nie altyd so “vry” soos wat ons veronderstel is om te voel nie. Nuwe skole-wetgewing bedreig ons gerustheid oor ons kinders se vryheid by die skool en ons hemelhoë heinings en alarmstelsels verklap iets van hoeveel vryheid ons binne ons eie huise ervaar. Armoede, wat veral ná die Covid-pandemie by menige gesinne kom inkruip het, is ‘n verdere aanslag op mense se vryheid, want armoede beperk jou keuses en op die lang duur jou vryheid.
In die globale prentjie blyk dit nog meer beroerd te wees en asof vryheid ook maar net iets is wat vir die superrykes en dié met mag beskore is. In 2024 woed daar verskeie oorloë regoor die wêreld wat ‘n streep deur enige vorm van vryheid trek en in sommige lande is Christene nie vry om God openlik te aanbid nie.
Om vryheid te hê is ‘n inherente behoefte van die mens. Juis daarom druis die scenario’s soos hierbo teen ons grein in.
Geen wonder jy hoor gedurig hoe VASGEVANG mense voel nie:
“Ek wens ek het meer vryheid binne my werksplek gehad om myself te kon uitleef.”
“Ons het besluit om te emmigreer sodat ons vry kan wees van ‘n regering wat namens ons besluite neem.”
“Ek soek ander werk sodat ek finansiële vryheid kan geniet.” (ek wonder egter wanneer ons ooit sal dink ons is werklik finansieel vry!?)
“Noudat ek siek geword het, het ek my vryheid verloor om te gaan waar ek wil en te doen wat ek wil.”
“Ek kan nie wag om eendag uit die huis te trek en my vryheid te kan geniet nie!” – elke tiener iewers in sy/haar hoërskoolloopbaan.
“Los my! Ek wil SELF!” – elke vierjarige wat vas glo dat hulle nou oor al die vryheid in die wêreld beskik, net omdat hulle een keer self tande geborsel het.
Selfs ‘n bekende politieke party heg soveel waarde aan die belofte van vryheid, dat hulle dit sommer deel van hul party se naam gemaak het.
Hierdie is alles voorbeelde van eksterne faktore wat jou vryheid inperk: jou werk, jou ouers, die regering, ‘n siekte.
Maar wat van die vryheid wat jy jouself ontneem? Die plekke in jou lewe waar jy self verantwoordelik is vir die tronk waarbinne jy leef?
Jou eng en wettiese denkwyses, jou onwilligheid om ander se opinies te probeer verstaan (nie te aanvaar nie, net te verstaan), jou hardkoppigheid wat veroorsaak dat jy uitmis op mooi, nuwe geleenthede. Dit beperk jou. Dit hou jou afgesonder van ander mense. Dit verhoed dat jy die lewe buite jou tronkmure kan geniet.
Jesus het bitter duur betaal vir ons vryheid. Vir JOU vryheid. Lééf jy soos iemand wat werklik vry is? Met ander woorde, lewe jy met ‘n ingesteldheid om ander te akkomodeer of skryf jy hulle af as hulle nie in jou boksie inpas nie? Vergewe jy genoeg of kies jy bitterheid in jou verhoudings? Glo jy in ander se potensiaal of kyk jy net vas in hul tekortkominge?
Jy het nie beheer oor die eksterne faktore (soos die regering, jou siekte of jou werk) wat soms jou vryheid steel nie. Jy het wel beheer oor jóú denke, optrede en ingesteldheid. Moenie jou eie vryheid beperk nie. Moenie ‘n slaaf word van jou eie ingesteldheid nie.
Ek vra weer: Waarvan wil jy vry wees? Of dalk anders gestel: waaroor het JY die beheer om van vry te word?
Liefdegroete,
Sonnika