Slaap

geskryf deur Dr Karin Steyn
"As ek gaan lê, slaap ek goed, ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my"
- Ps 3:6

"Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want Here, U alleen laat my veilig woon" – Ps 4:9

Slaap is eintlik maar 'n vreemde ding.
Het jy geweet ons slaap  een derde van ons lewe?
Elke aand maak ons gereed om te slaap, maar ons kan onsself nie aan die slaap maak nie. Dis ‘n geskenk van God af. Jou liggaam gaan in 'n staat van rus, waar jou spiere ontspan, jou oë gaan toe, asemhaling raak rustig en jy reageer nie op lig en klank solank jy aan die slaap is nie. Hierdie basiese funksie is egter nie vir almal van ons ewe maklik nie.

Ek het onlangs ‘n nuwe konsep geleer: God-slaap.
Hierdie soort slaap is aan God toegewy, oop vir God se werking en deur God geseën. Die Here se tyd is anders as ons s’n, ons dag begin wanneer God ons reeds ‘n halwe dag kon bedien het terwyl ons geslaap het. Dis wanneer God in ons werk sonder dat ons inmeng.

Slaap is ‘n oorgawe aan die herstelwerk van die aktiewe God, en wanneer ons wakker is, word ons uitgenooi om in te haal by die werk wat God gedoen het. Hierdie manier van dink oor slaap was vir my nuut. Om so te dink oor God se teenwoordigheid in ons lewe, selfs wanneer ons dit nie kan beheer nie.

Vra maar vir enige ouer van ‘n baba of kleuter of slaap belangrik is – ek glo ons sal ‘n standaard antwoord kry! Sonder goeie slaap kan ons nie die Here in ons alledaagse raaksien nie, want ons is bloot te moeg. James Smith  sê daarom tereg:

“The number one enemy of Christian spiritual formation today is exhaustion. We are living beyond our means, both financially and physically.”

Andrew Bishop  wys daarop dat ‘n teologie van slaap nie net op slaap fokus nie, maar ook op die wakkerword-deel van die slaapsiklus. Wanneer ons wakker word, word ons bewus van die geskenk van ‘n gewone dag. Soms is hierdie gewaarwording intens. Wakkerword is dalk vir jou baie keer in angstigheid, of pyn in jou lyf, of iemand wat huil. Ander kere word ons stadig wakker. By ons huis is daar ‘n groep duiwe wat soms op ons dak buite ons kamer vergader en ons voor vyfuur in die oggend al wakker koer. Die woord “koer” laat dit wel baie mooier klink as hoe ons dit ervaar! Die uitdaging bly egter om elke dag as ‘n geskenk van God te sien.

Elke oggend is ‘n mini-viering van die opstanding. Dink vir ‘n oomblik oor dit: opstanding wat ons aan ons eie lywe kan voel. Daarom kan ons soos Jakob, wakker word in ‘n wêreld waarin God aktief en werkend is. So ons kan saam met hom bely: “Waarlik, die Here is op hierdie plek” (Gen 28:16).

Soos die jaar einde se kant toe staan leef ons in Oktober maand mos al hoe vinniger met alles wat ons nog moet inpas. Mag jy nie vergeet van slaap nie. Wie weet, dalk is jy een van die geseëndes wat ‘n middagslapie kan inpas!

Vrede,
Ds Karin


[1] James Smith, The Good and Beautiful God, 33.
[1] Andrew Bishop, Theosomnia, 13.