Dankbaarheid in Tiendemaand

geskryf deur Ds Marco Koch
Het jy al daaraan gedink hoe eienaardig dit is dat mens die deuntjie “hoor” van ‘n liedjie waarvan jy slegs die woorde lees?

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.

Hierdie deuntjie sit vir hierdie tiende maand nogal gereeld in my kop. Miskien omdat die wysie so “catchy” is. Meer waarskynlik omdat die woorde so kragtig is: Dankbaarheid en gelukkig wees gaan hand aan hand.

David Steindl-Rast praat in 'n kragtige TED talk (1) oor dankbaarheid. Hy sê dankbaarheid is nie net 'n gevoel in jou hart nie. Dit is 'n perspektief. Dit is 'n manier van kyk na die lewe. Dankbaarheid is 'n manier van leef. Wanneer jy dankbaarheid verstaan en dankbaarheid leef, loop dit altyd oor na ander mense.

Nou kom die klassieke vraag: hoeveel moet ek gee as ek ‘n lewe van dankbaarheid leef? 10%? 10% van wat? Voor af na aftrekkings? Met of sonder belasting?

Verhaal van die koerantafleweraar
Voordat mense koerant op hulle selfone gelees het, het mense koerante gekoop en dikwels het behoeftige kinders die koerante verkoop as ‘n manier om te oorleef. Daar is ‘n storie van 'n seuntjie wat een Sondagoggend by 'n kerk ingegaan het om uit die koue te kom. Hy kon daardie oggend geen koerante verkoop gekry het nie. Hy het die kerkgebou binnegegaan, met die hoop om 'n uur ongemerk in die agterste ry deur te bring. Die prediker het 'n kragtige preek oor Jesus en sy liefde vir ons gelewer. Aan die einde van die diens het hulle 'n kollekte opgeneem. Die kollektebordjie het van ry tot ry gegaan totdat een uiteindelik naby die koerantverkopertjie gekom het. Die diaken het reg voor die seuntjie gestop en die kollektebord uitgehou. Die seun het na die kollektebord gestaar en na 'n lang ruk het hy die diaken gevra om die kollektebordjie op die vloer neer te sit. Toe doen die seuntjie iets baie ongewoon. Hy het op die kollektebordjie gaan staan - eers met een voet en toe die ander. Hy het stadig opgekyk met trane wat oor sy wange stroom en gesê: "Meneer, ek het nie geld nie; ek het nog nie 'n enkele koerant vandag verkoop nie, maar as Jesus alles gedoen het vir my wat die predikant gesê het, gee ek met graagte my hele lewe aan Hom.”

Hoeveel moet ek gee?
Alles! Soos die poker-speler (en die koerantverkopertjie) sal sê: “ALL IN!” Hoekom? Omdat jy so oulik is? Nee, omdat Jesus reeds Sy alles gegee het. Jesus het nie gedink hoeveel van sy liggaam moet breek en hoeveel van sy bloed moet vloei nie. Hy het alles gegee. ALLES.

Hier is ‘n gebed vir jou tiendemaand dankoffer
Here, elke goeie geskenk kom van U af. Daarom is my dankoffer ‘n goeie geestelike dissipline wat my help om my los te wikkel uit die greep van my besittings. Dit bring rustigheid in my gemoed. Hou my asseblief vas in die vryheid van ‘n vrygewige hart wat u Koninkryk met vreugde dien. In die Naam van Jesus. Amen.

Filippense 4:6-7
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Vrede,
Ds. Marco Koch

(1) David Steindl-Rast, How to increase your happiness
https://www.ted.com/talks/ted_ed_how_to_increase_your_happiness?subtitle=en