Lig(ter)

Lig(ter)!
Geskryf deur Zander van der Westhuizen

Ek het reeds my kersboom uitgepak en die liggies buite my huis op die groot boom gehang. Die jaar moet nou klaar.

Daar is iets terapeuties aan die uitpak van 'n kersboom en die ophang van die feesseisoen se liggies. Ek weet nie eintlik presies hoekom nie. Dit is asof 'n mens aanvoel 'n tydperk van klaar-maak, toe-maak en afhandel het aangebreek. 'n Nodige tydperk van emosionele afsluiting - selfs (ironies genoeg) al gaan jy nie Desember weg nie.

Rodger het my gehelp met die proses om die liggies te hang. Ons gesels oor die jaar en ek sê: "Dit was 'n besige, moeilike jaar". Rodger antwoord: "Elke jaar is moeilik. Ons moet net dag-vir-dag leef."

Teen my eie preekadvies van die afgelope Sondag, rus die jaar se uitdagings steeds op 'n mens se skouers. Tog is daar soveel om voor dankbaar te wees. Soveel wat bereik is. Soveel wat ook deur die jaar afgehandel, toegemaak en hanteer is.

Dié aand loop ek kort-kort uit om te sien hoe die liggies lyk. Toe dit heeltemal donker is kom my siel vir 'n oomblik tot rus. Alles lyk mooi. Die prentjie wat voor my oë afspeel herroep 'n bekende emosie wat elke jaar homself in my binnekant herhaal - afwagting.

Advent is afwagting. Dit is die tyd tot en met Kersdag waarin Christene uitsien na die viering van die grootste en onverwagse geskenk van alle tye: God het mens geword.

Miskien is die diepste innerlike behoefte nie dat die jaar moet klaar maak nie, maar dat ek aan my binnekant kan belyn met hierdie geskenk. Ek sien uit na 'n vrede en 'n rus - wat net die Here kan gee. En waar beleef 'n mens dit meer as tydens die herdenking van Advent en Kersfees?

Die reëndruppels val later die aand op ons sinkdak. Die liggies skyn deur die waterdruppels op ons huis se glasvensters. Dit word koeler buite en die wind waai.

Die natuur neem "die verhoog" en die konsert waarin wind en water dans word die fokus van my gedagtes. Dit is 'n laataand vertoning en ek is die enigste een in die gehoor. Kersfees kom! Kersfees kom! Gee aan God die eer!

Daar is iets terapeuties aan Advent.

Ons moet eintlik reeds Desember as baie ligter mense in-stap.
Volgende jaar moet ek probeer.