Die vreugde van die Gees
geskryf deur Ds Marco Koch
Wanneer laas het jy uit jou maag uit gelag?
Wanneer laas het jy volspoed gehardloop met swaaiende arms, so slordig soos ‘n kleuter?
Wanneer laas het jy by graswalle af gerol?
Wanneer laas het jy ‘n morsige roomys só geniet dat dit oor jou ken en tot op jou hemp geloop het?
Hierdie vrae is seker onderhewig aan jou mate van jeug of jig, maar die hart van die saak lyk só: beleef jy vreugde, daardie diep gegronde Jesus-vreugde, in jou lewe?
Dit wil vir my voorkom of Christene soms bang is vir vreugde. Of is ons dalk net bang om dit te wys? Soos die klassieke grappie van die dominee wat deur tieners oor dans uitgevra word by ‘n kerkfunksie: :Ja!...” sê hy, “...julle mag dans, maar julle mag dit nie geniet nie.”
Daar is ook onderskeid te tref tussen gelukkig wees en vreugde. As Christene word ons nie geroep om gelukkig te wees nie, maar om in vreugde te leef. Om gelukkig te wees is soos ‘n warm bad wat vinnig koud word. Om vreugdevol te wees is soos ‘n brandende hart wat nooit gesmoor kan word nie.
Ek onthou hoe ek in my eerste gemeente per geleentheid nagmaal bedien het. Dit was as deel van die stasies van die kruis. Mense het gesin vir gesin aangesit vir die nagmaal. Dit was net na ‘n moeilike Covid-19 golf. Voor ek die nagmaal bedien, het ek eers die pols van die gemoed getoets waarna ons ook saam gebid het. Die een pa se antwoord sou my altyd bybly: “Marco, ek sit met ‘n diepe skuldgevoel, want ons is regtig gelukkig!”
In daardie konteks het ek baie begrip gehad vir die antwoord. Hoe meer ek egter daaroor dink, hoe meer besef ek hoe vreemd die verskynsel is. Weerhou skuldgevoel jou dalk om waarlik vreugde te beleef? Ek reken dit is ‘n baie ernstige vraag om oor na te dink.
Skuldgevoelens kom meestal na vore op sterfbeddens. Ek het die voorreg gehad om saam met heelwat families langs ‘n sterfbed te staan. Nog nooit het die sterwende persoon gesê “...ek wens ek het harder gewerk!” nie. Wat mens meestal langs ‘n sterfbed hoor is “...ek wens ek het meer tyd saam met my familie spandeer deur lekker goed saam te doen” of “...ek wens ek het gaan valskerm spring!”.
Skuldgevoelens steel vreugde. Skuldgevoelens steel lewe.
Ons lewe in ‘n wêreld waarin lewe gesteel word. Lewe word nie net gesteel deur skuldgevoelens nie. maar ook druk, spanning, depressie, trauma, pyn en hartseer. Hoe dan gemaak met vreugde en pyn? Kan ons werklik vreugdevol lewe in die realiteit?
Die film industrie is versot oor zombies-films. Dit is daardie apokaliptiese tonele waar byna die hele wêreld se bevolking deur ‘n pes of siekte uitgewis is. Die spesifieke pes of siekte laat egter die dooies weer opstaan, sonder hulle verstand. Hulle beweeg rond, maar hulle lewe is totaal gesteel. Mense dink hierdie films is só gewild omdat kykers hulself vereenselwig met die dapperes wat veg vir oorlewing in ‘n zombie wêreld. Leonard Sweet beweer egter dat mense hulself eintlik onbewustelik eerder vereenselwig met die zombies. Hy beskou zombies as ‘n baie goeie metafoor vir hoe Christene soms leef. Hy skryf in sy boek The Well-Played Life:
“The world is filled with the living dead: joyless, passionless, zealless, lifeless Christians. The walking dead abound, and deadness is around every corner. Zombie apocalypse is not always apocalyptic. Zombie Christians are walking among us everywhere. The heart can stop living long before it stops beating. And the work ethic that would consume us has put some in the grave far too early.”
Verder sê Sweet dan: “We must play at life so passionately that giving becomes part of the weave of our relationship with God and others.”
Vreugde kán deel word van die essensie van wie jy is en die verhoudings waarbinne jy leef.
Jürgen Moltmann, wat sélf baie pyn ervaar het tydens die tweede wêreld oorlog, het geglo dat vreugde juis ‘n kenmerk van ‘n Christen behoort te wees. Vreugde is nie die vermyding (escapism) van die realiteit nie. Vreugde ontken nie pyn nie, vreugde is om sáám met pyn te leer leef.
In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons dat ons glo in die opstanding van die vlees asook die ewige lewe. Die Christelike belofte is nie dat ons pyn of seer vryspring of systap nie, maar eerder veerkragtigheid ontvang om staande te bly. Vreugde is die afwagting op die vervulling van Christus se belofte. Die koninkryk kom, daarin maak Hy alles nuut, ook ons harte. Ons word nie ouer nie, ons word nuwer. Kan jy die Here toelaat om jou hart te vernuwe sodat jy met vreugde kan leef, ten spyte van jou situasie?
Terwyl Beethoven doof is, komponeer hy sy 9de Simfonie. Hy kon sy eie meesterstuk nie hoor nie. Hoe ironies dat dit dan ook genoem word “Ode to Joy”?
Terwyl Paulus in die tronk sit, skryf hy sy brief aan die Filippense. Hoe ironies dat dit dan ook bekend staan as die brief van vreugde?
Filippense 4:
4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
Mag dieselfde gesindheid in jou wees, wat daar ook in Christus Jesus was.
Mag jy God se vreugde beleef wat alle verstand te bowe gaan.
Mag jy die genade ontvang om weer uit jou maag te kan lag.
Vrede,
Ds. Marco Koch