Jêm-blikke, vis-blikke

geskryf deur Sonnika Nel
Die atletiekseisoen by die hoërskole is nou net verby en die skole is steeds besig om punte te vergelyk en solank te beplan vir die volgende seisoen. Diegene wat my ken, sal weet dat ek nou nie juis ‘n atleet op skool sou wees nie, maar dit het my oneindige plesier verskaf om die byeenkomste by te woon.

Daar was nog altyd vir my iets betowerend aan groot atletiekbyeenkomste.  Tussendeur die Deep-Heat walms, ruik jy die slap-tjips terwyl jy die bye uit jou koeldrank probeer weghou.  Iewers in die agtergrond hoor jy die aankondiger en atletiek-tokse wat by die pawiljoene op en af draf. Jy sien spiese en diskusse deur die lug trek en mamma’s wat Energade aandra. Voor ‘n wegspring kan jy die stilte met ‘n mes sny en die afwagting soos hoendervleis op jou vel voel.  Dan hoor jy die afsitter se knal en dadelik daarna bars duisende toeskouers uit in ‘n koor van aanmoediging en opwinding.

Later die aand klim al die sweterige en son-verbrande lywe op die bus en eet die oorskiet slap-tjips van vroeër terwyl die beserings van die dag vergelyk word. En al is hulle hóé moeg, hou die gesels en skertsery en singery nie op totdat hulle terug is by die skool nie.
Ek beny die atlete met al hul atletiese talent! Maar dis die busse vol toeskouers wat my elke keer opval.  Niemand van hulle gaan saam met die verwagting van ‘n medalje nie.
  Niemand van hulle gaan saam om ‘n rekord te breek nie.  Nie een van hulle het op die podium gestaan nie.  Hulle het saamgegaan om hul vriende te ONDERSTEUN. Dis al. Hulle stemme is hees geskree en hulle gesigte verbrand, maar hulle was dáár. Sonder dat hulle verplig is (wel, behalwe dalk vir die Gr 8’s!).

Die toeskouer-kultuur wat by hoërskole in ons omgewing gekweek word is vir my mooi.  Dis ‘n eer om gekies te word as ‘n toeskouer en by party skole moet jy dit verdien deur positiewe gedrag of deur die oefensessies saam met die dirigente by te woon.  Hulle word as’t ware professionele ondersteuners wat hulle amp met trots beklee!

Hoe mooi is dit dat jou uitsluitlike doel vir die dag is om jou vriende aan te moedig en te ondersteun?!

Wanneer laas was JY iemand se cheerleader? Net omdat jy hom of haar wil sien goed voel oor hulself, sonder dat jy enigsins self daarby baat.  

Ons kritiseer ander baie maklik.  Jou man se besluite, jou kind se punte, jou kollega se voorlegging of jou buurman se leaf blower!

Paulus herinner ons gedurig om mekaar te ondersteun en te bemoedig (Galasiers 6, Kollosense 4, 1 Tessalonisense 3), want hy het geweet dat ons nie gemaak is om sonder aanmoediging te leef nie.  Ek en jy het dit ook nodig.

Ek wil jou uitnooi om soos die toeskouers by Interhoër, om jou rond te kyk en raak te sien wie aansporing nodig het. Dalk jou vriendin wat lewensmoeg voel.  Dalk jou kollega wie se selfvertroue lankal opgedroog het. Dalk ‘n vreemdeling wie se oë ‘n hartseer storie verraai.  En dan “cheer” jy hulle, uit volle bors en met onbevange passie.

Jou stem is dalk al wat hulle nodig het om uit te hou en ‘n wedren te voltooi waarvan jy dalk nie eers bewus is nie.

Groete.