Stof
geskryf deur Dr Karin Steyn
Laas naweek het ek die voorreg gehad om in die Bosveld te wees. Soos wat ek ry op ‘n oop trokkie in die wind, voel ek hoe die stof aan my begin vassit. Soms het ek tyd in die bos nodig vir my hart om net weer te besef hoe klein ons is. Ek glo Lydenstyd is ‘n reis deur ons eie broosheid – deur die stof van ons twyfel en gebrokenheid.
Van die vroegste tye af was stof en as tekens van nederigheid, berou en sterflikheid. Selfs in die natuur gooi olifante stof oor hulself, soms om af te koel – ander kere as hulle rou.
Die storie van ons menswees begin met stof. Ons is stof. Ons is broos.
In ‘n moderne wêreld waar ons alles probeer beheer en perfek voor ander wil voorkom, is die idee van stof en as amper vreemd. Dit herinner ons aan ons nietigheid en ons afhanklikheid van God – dinge wat ons dikwels probeer ignoreer.
Toe Jesus op aarde was, het Hy nie fisies as op sy kop gegooi nie, maar Hy het wel die essensie daarvan beliggaam. Hy het self gekies om deel van die “stof” van die mensdom te word, om na ‘n gebroke wêreld toe te kom en in ons pyn en sonde in te stap. Uiteindelik het Hy die laaste weg van as en stof geloop: die kruis. In Lydenstyd herinner ons onsself daaraan. Dit is ‘n seisoen van aflegging, van besef hoe klein ons is en hoe groot God se genade is. Dit is ‘n seisoen waarin ons eerlik voor God gaan staan en sê: Ek is stof. Maar U maak nuwe lewe uit stof.
Mag elkeen van julle - dié wat chronies pyn het, dié wat uitgebrand voel deur die verwagtings van die lewe, dié wat in diep onsekerheid verkeer oor die dag van môre, diegene wat voel hulle dra die wêreld op hulle skouers, die dokters en verpleegsters wat oorweldig voel omdat hulle die lewe en dood van mense in hulle doodmenslike hande hou - mag jy diep bevryding en berusting vind in hierdie woorde:
“Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”
Genesis 3:19
Om as te dra in Lydenstyd is nie ‘n teken van hopeloosheid nie. Dit is ‘n teken van hoop. Dit sê: Ek weet wie ek is – ‘n mens wat broos en gebroke is. Maar ek weet ook wie God is – die Een wat lewe bring waar ek net stof sien.
Die goeie nuus is dat stof en as nooit die einde van die storie is nie. Net soos wat Jesus nie in die graf gebly het nie, bly ons ook nie in ons stof-momente vasgevang nie. God se wil is herskeppend – Hy maak nuwe lewe uit stof. Mag hierdie Lydenstyd ‘n tyd wees waar ons God se wil in en deur ons stof-momente ontdek.
Vrede