Paasfees moet jou verander

Paasfees moet jou verander!

geskryf deur Zander van der Westhuizen
 
Ek onthou hoe die atmosfeer eers donker en morbied was. Die Donderdagaand se diens was stil. Ons sing liedere met stadige tempo's in mineur. Die begeleiding is eenvoudig en min. Die ruimte is donker en 'n mens voel aan - daar is hartseer in die lug.

Vrydag is soos 'n begrafnis. Niemand praat eintlik voor of na die eredienste met mekaar nie. Daar is min lig. Die teks-voorlesings is somber en die musiek is steeds gedemp. Ek kan sien hoe Jesus seer het. Hoe Hy sukkel. Hoe Hy moeilik asem haal. Ek sien hoe die bloed oor sy lyf loop en drup in die stof. Soos 'n film in my verbeelding sien ek die mense wat in stadige spoed op Hom skree. Hoe Maria stukkend is en Sy dissipels afwesig. Daar is 'n alleenheid, 'n hartseer en 'n einde.

'n Mens hoor hoe klink Sy longe se laaste oppervlakkige asem. Die snak na die laaste suurstof. Die laaste oomblikke.

Saterdag is stil. Amper soos na 'n groot oorlogsdag vermoed ek. Die dood hang in die lug, die velde van verlies is voor jou oop en alles het tot 'n skietstilstand gekom.

Niks.
Net vrae in jou gemoed: Waar is God?

Sondagoggend kom die son op. Dit is 'n mooi vars oggend in dié klein dorpie in die suid-ooste van Frankryk. Duisende mense stap die gebou in. Dit is steeds donker. Die eerste musiek begin speel. Een kers in die middel van die massiewe gebou word aangesteek. Dan twee. Dan drie. Later honderd. Later 'n duisend. Uiteindelik duisende. Orals is lig!
Die volle orkes speel in majeur. Dit is 'n loflied! Christus het werklik opgestaan. Daar is hoop en lewe. Alles is anders. God is nie weg nie.

Buite kry ons sjokolade, brood en Franse botter. Almal sing en vier fees. Vreemdelinge omhels mekaar en sjokolade en soetgoed word met mekaar gedeel - in oorvloed. Daar is te veel!

My hart is vol. My oë vol trane van vreugde. Ek kan nie anders nie. Paasfees het my verander.

As jy werklik verstaan kan jy nie anders nie - niks sal ooit weer dieselfde wees nie.