Woorde

Woorde

deur Karin Steyn


Words

I don't take your words
Merely as words.
Far from it.

I listen
To what makes you talk –
Whatever that is –
And me listen.

-Shinkichi Takahashi-

Van kleins af het my oupa gesê: ‘Moenie kyk wat mense sê nie, kyk wanneer hulle kies om te praat.’ Wyse woorde. Takahashi sê dit hierbo ook mooi. Om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly is vir ons as mense seker een van die moeilikste goed om onderskeid oor te tref.

Die Talmud sê 'n woord is soos 'n by, dit het heuning en 'n angel. Dit kan lewe skenk of moord pleeg. Troos of ontstig. In enige gegewe sin wat ek sê of skryf kan die subteks wees, “Ek ook” (“Me too”) Jy’s nie alleen nie” of “Jy’s op jou eie.”

In die vroeë kerk het baie mense hulle lewens verloor, want hulle het geweier om twee woorde te sê: “Kaiser Kurios” – Die Keiser is die Here. Hoekom het hulle geweier? Want hulle het geweet dat woorde belangrik is.

Hoe ‘n blote woord, ‘n paar letters in ‘n string geryg, ‘n sin kan vorm, ‘n mens kan platslaan of ophef. So probeer ons oomblik vir oomblik dinge sê om onsegbare dinge te verwoord. Om onverklaarbare goed te verklaar. Sin te maak van die dinge wat nie in sinne pas nie.
So iets wat my nog altyd so half ongemaklik maak in die Evangelies is dat Jesus mense nie reghelp as hulle verkeerd oor Hom praat nie. Jesus gee duidelik ook nie veel om dat mense nie Sy presiese bewoording gebruik of Hom korrek aanhaal nie. Dis die innerlike stilte wat uiteindelik saak maak en waaroor Hy omgee, die woorde kan ons bloot in daardie rigting beduie. Sy krag het gelê in Sy teenwoordigheid.

Die wag voor die mond. Iets wat ons almal moet inoefen. Nie net as ‘n dissipline nie, maar om jou siel te bewaar van angs en onstuimigheid: “Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede” (Spr. 21:23). Ons woorde is ‘n belangrike sleutel in die vloei van God se genade in die omgewing waar ons leef en met wie ons te doen kry. Natuurlik is dit nie altyd maklik om met eerlike woorde “stroomop” te wees nie. Mense sal nie altyd met dankbaarheid luister na opregte woorde nie - selfs al bedoel jy dit goed. Wees wel net altyd seker dat jy onder leiding van die Heilige Gees praat. Dat wysheid, eerlikheid en deursigtigheid in jou woorde sigbaar is. Dan sorg die Here vir die resultate.

Hy verander mense op Sy tyd en Sy manier. Ons is slegs Sy getuies wat woorde bring. Pratende instrumente van hoop!

Mag ons die week mooi dink voor ons praat. Jou woorde is vir God belangrik.