Hoe meet mens jou geloof?
geskryf deur Ds Marco Koch
Tydens my hoërskooljare was die grootste item wat my ouers ooit vir my gekoop het, my tekenbord. Tegniese Tekeninge (IGO vandag) was verseker my gunsteling vak. Ek koester die herinneringe. Om met trots die bonkige blink bord heeldag saam te dra. Meestal altyd ná pouse, sit ons aan by ons tekentafels in mnr. Deon Holtzhausen se klas. Vir een of ander rede het ons TT onderwysers altyd snorre gehad, rugby afgerig en baie pak uitgedeel. Hulle was ook meestal mans. Mnr. Holtzhausen se klas was in die hoek van die TT-blok. Ek pak my tekentoerusting uit. Twee potlode, een H en een B. Die eerste vir spook-/konstruksielyne en die tweede vir die ware Jakob. Twee liniale, een groot en een klein. Albei van staal, met selfs halwe millimeters vir daardie haarfyn afrondingswerk. ‘n Potlooduitveër met ‘n staal uitveër plaatjie, want net ‘n rebel vee sommer só met die vryhand uit. Ek het selfs my eie stukkie gereedskap uit karton ontwerp om elke keer ‘n perfekte titelblok te trek.
Dan kom die tekenbord. Aan die linkerkant skarnier ‘n liniaal om die papier mee vas te knyp. Twee klein stukkies maskeerband plak die ander twee hoeke vas. ‘n Groot plastiek liniaal gly op en af op ‘n spoor en bied leiding vir die ander liniale en driehoeke.
Een glashelder herinnering, die enkele ding wat my egter die heel meeste beïndruk het, was nie al die toerusting nie, maar die manier hoe mnr. Holtzhaussen gemerk het. Dalk is dit hoe alle menere met snorre gemerk het, maar ek sal maar vir hom die krediet gee, vir ingeval hy hierdie lees.
In ander vakke sou die onderwyser ‘n memorandum opstel met woorde of syfers en daarvolgens merk. Met ‘n skets kan mens dit uit die aard van die saak níe doen nie. Mnr. Holtzhaussen sou die skets sélf vooraf teken, met ‘n pen op ‘n transparant. Dan stap hy met die enkele vel deur die klas, hy plaas sý skets oor jou skets en vergelyk só sy bloudruk met jou skets. Deur dít te doen, sien jy sommer dadelik waar jy op koers is, asook waar jou foute lê, waar jy kan verbeter.
Nou terug by ons aanvangsvraag: Hoe meet mens jou geloof?
Mens kan sowaar nie met ‘n empiriese studie geloof meet nie. Waaruit sou só ‘n studie bestaan? Dade, ingesteldheid, dissipline, gewoontes, gebede?
Hoe sou mens gebede meet? In hoeveelheid, kwaliteit of egtheid?
Daar is sekerlik nie ‘n memorandum vir geloof nie.
Maar daar ís wel ‘n bloudruk.
Johannes begin met die ongelooflike inleiding: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.”
Hierdie “Woord” is meer as slegs ‘n plekhouer vir die naam Jesus. Die Griekse woord vir hierdie “Woord” is Logos. Daar is verskeie maniere om die hart van Logos te verstaan. Een akkurate beskrywing van Logos is “bloudruk”. Jesus is die bloudruk wat jy oor jou lewe hou. Deur dít te doen, sien jy sommer dadelik waar jy op koers is, asook waar jou foute lê, waar jy kan verbeter.
Vrede,
Ds. Marco Koch