Eksamenstres

geskryf deur Sonnika Nel
Ek droom nog gereeld dat ek ‘n Chemie vraestel moet skryf en geen idee het wat op die vraestel voor my aangaan nie. Die elemente van die periodieke tabel en al sy verbindings swem voor my oë, maar niks maak sin nie. Net voor ek flou word van paniek, skrik ek wakker. Ek het soms ‘n soortgelyke droom oor my bestuurslisensie-toets en dat ek dit nie eers regkry om in eerste rat weg te trek nie. Na so ‘n droom is ek besonders verlig as ek tot verhaal kom en besef dat dit ‘n eksamen of toets is wat ek (baie) jare gelede reeds afgelê het én geslaag het.

Die skole se eksamen loer reeds om die hoek en in baie huise is die eksamenstres besig om die oorhand te kry.  Veral Graad 4 ouers loop met groot oë en benoude harte rond want hul spruite se eerste eksamen is nou ‘n realiteit.

‘n Eksamen of toets is eintlik net die proses wat vir jou terugvoer gee oor hoeveel jy weet of nie weet nie en vir jou ‘n aanduiding gee van waar jy kan verbeter.  Maar waarom veroorsaak dit dan soveel spanning?  Waarom duik dit jare later dan steeds op in ons nagmerries?  Dieselfde gebeur met grootmense wanneer ons terugvoer kry oor ons werksprestasie. Vir party mense is selfs ‘n oogtoets angswekkend!

Hierdie spanning lê daarin dat ons bang is om geweeg en te lig bevind te word. Ons is bang ons is nie genoeg nie.  Ons is bang dat die uitslag van die toets iets verklap van wie ek is of hoe mense my sien.

Soms as ek met gesinne in my kantoor gesels, hoor ek die narratief dat dit “goed gaan” met die kind in die huisgesin wie se punte goed is en dat die teendeel waar is vir die ander kind wat nie so goed presteer nie. Dieselfde geld vir ma en pa.  Ons welsyn hang soms grotendeels af van hoe ons presteer by ons werk.

Die ouer garde spring nie hierdie gevoel van “ek-is-nie-goed-genoeg-nie” vry nie.  Dit raak jou diep as jy nie meer so aktief kan wees soos vroeër nie of as jy tot die besef kom dat jou kennis nie meer so relevant of op aanvraag is nie.

Ons hou nie daarvan om onseker of onbevoeg te voel nie.  Dit frustreer ons en dit laat ons in onsself twyfel.

God gebruik egter ‘n ander maatstaf as ons.  Sy memorandum word nie deur mense opgestel nie en Sy puntetoekenning werk nie volgens die wêreld se norm-tabelle nie.
Ons is gestel op vermoëns.  God is gestel op karakter.
Ons meet sukses.  God meet liefde.
Ons vergelyk onsself met ander. God wéét ons is volgens Sy beeld geskape.

Dalk is daar ‘n diep kommer in jou hart: Is ek genoeg? Is ek suksesvol? Maak ek regtig ‘n verskil?  

Jou vraag is nie irrelevant nie, maar jou maatstaf is moontlik. Ons wêreldse maatstawwe meet die onbereikbare en gee vals resultate wat ‘n onwaarheid in ons menswees laat groei oor wie ons regtig is.

God se maatstaf meet die eienskappe wat Hy self in jou bewerkstellig het en wys vir jou die waarheid, nie net oor wie jy is nie, maar oor wie Hy is.  

2 Petrus 1: 3-4 - Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

Wiskunde toetse, matriekeksamens, bestuurslisensie-toetse en werksprestasie evaluerings is deel van die lewe en alhoewel dit vir jou terugvoering gee oor jou vlak van bemeestering van ‘n spesifieke taak, sê dit niks oor jou of jou kind se menswees of karakter nie.
Laat God toe om jou eksaminator te wees en luister dan na wie Hy sê jy is.

Groete,
Sonnika